Nulaid – Leaderboard – All Regions

Boland

Lees meer oor die boek Skadujagter deur Dihanna Taute en WEN!

on

WEN die boek Skadujagter!!

Epos jou naam, van en skool na win@tiemedia.co.za voor 3 November 2018!!

Kyk die lokprent hier:

17jarige Heibrandt bevind homself in ‘n buitengewone skool, waar hy deur streng sekuriteit dopgehou word. In groepsterapiesessies word hy aangemoedig om sy lewensverhaal te vertel. Geleidelik ontvou die nagmerrieverhaal van hoe hy hier beland het – met ‘n verband om die gat in sy kop. Hierdie sielkundige riller neem die leser op ‘n spanningsvolle reis, waarin die grense tussen werklikheid en hallusinêre beelding getoets word.

 

Dr. Henriëtte Loubser, Bibliotekaris: Opvoedkunde Biblioteek (Universiteit Stellenbosch), het Skadujagter resenseer. Lees hier:

SKADUJAGTER / Dihanna Taute

Human & Rousseau, 2018

R160.00

Hierdie nuwe boek van Dihanna Taute verskil radikaal van haar vorige werke uit die Lehandi-reeks met titels soos Ek en Prins Donkerkuif (2016). Dit wil voorkom asof dié lekker ligte liefdesintriges blote vingeroefeninge vir Skadujagter was, want met hierdie ene laat sy die leser winduit, poegaai. Skadujagter herinner aan die briljante Pleisters vir die dooies deur Fanie Viljoen, waar geestesversteurings by jong volwassenes ter sprake kom. Dit is ‘n sogenaamde oorgangsroman, ‘n werk tussen die jeugverhaal en volwasse fiksie.

Heibrandt Fouche is 17 jaar oud en in matriek. Die leser kom egter gou agter dat hy nie in ’n gewone skool is nie. Vroegreeds word daar verwys na ongewone goed soos swartgeklede, streng wagte wat oral rondstaan en pille wat uitgedeel word aan skoliere wat in rye staan en wag. Heibrandt se gedagtegang spreek ook boekdele met monoloë soos “skool is ‘n tronk”, “Ek sweer, hierdie plek is die pits. Almal maak of hulle flippen mal is” en dan is daar die newekarakter, James, wat oral opduik en suspisieuse “good stuff” aanbied. Heibrandt spreek telkens sy begeerte uit om uit sy omgewing ontsnap: “Ek moet eerder wegkom van hierdie plek …”, want hy voel soos ‘n gevangene.

Die verhaaltempo is snel en die leser het ‘n sitplekgordel nodig om by te hou. Dit is moeilik om te bepaal wat is werklikheid en wat is verbeelding of selfs hallusinasie. In hierdie sielkundige riller word dit egter van die Proloog af reeds duidelik dat Heibrandt ‘n getraumatiseerde siel is. Daar is verwysings na ‘n afwesige pa, wat boon-op ‘n dwelmverslaafde was. Daar is Heibrandt se ma, Cynthia, wie se dood waarskynlik die sneller was vir sy versteuring – wat die stemme in sy kop losgelaat het.

Die verhaalgebeure, alhoewel ’n verstrengeling van realiteit en surrealiteit, vertel van ‘n uiters verwarde, angsbevange en siek jong man. Hy voel dood, leweloos en gaan in sy verbeeldingsvlugte dikwels terug na die dorre, stowwerige wêreld van die begrafplaas waar sy ma begrawe lê. Heibrandt noem dit Cowboy Country. Tog is dit ook hier waar sy demone hom op hulle felste konfronteer. Dié monster (chimera) het “verskillende gesigte”. Soms is dit ‘n arend, soms die monsterman met die swart mantel, soms ‘n kat met rooi oë. Hoe dit ook al sy, Heibrandt baklei teen ‘n oormag.

Ook die stemme in sy kop is soms die van sy ma, wat smeek dat hy haar moet help, soms dié van sy ouma wat troos, maar wat ook vermaan en gospel liedjies sing. Soms is dit Shane, die dokter/psigiater, en soms is dit die dominee met sy rasperstem en sy tekste uit die Bybel. Meestal is hierdie monster egter in homself, ‘n soort boosheid, “’n donkerte [wat] deur my lyf trek” en wat hom geweldadig maak, hom wil laat moor. Dit is ‘n kant van hom wat selfs sy ouma vrees: “Sy’s bang vir jou, brand dit in my kop”.

Heibrandt het ‘n obsessie met Shane. Hy sien hom oral, vrees hom en beplan selfs om hom dood te maak. Ook die leser word gefnuik deur hierdie newekarakter. Waar pas hy in? Is hy (en ook James) daar om te help of is hy besig met sy eie bose plan om die inwoners bedwelm te hou? Is Heibrandt se vrees en woede jeens hierdie man geregverdig? Dit is duidelik dat Heibrandt gereeld medikasie ontvang, hetsy pille of inspuitings. Die leser wonder egter voortdurend of dit daar is om te help en of dit instrumenteel is tot die hoofkarakter se haglike situasie. Is dit medikasie of is dit dwelms of is dit dalk een en dieselfde ding?

Intense skuldgevoelens bring verdere teistering: “Ek voel die skuldgevoel in my maag brand”. Heibrandt voel verantwoordelik. Hy reken hy kon meer gedoen het om sy ma te red, selfs ander sterftes te keer soos dié van ‘n medeskolier, Thinus, en die dogtertjie wat verdrink het. Verder leef hy met die immerteenwoordige vrees dat sy ouma, by wie hy na sy ma se dood gaan bly het, ook iets sal oorkom.

Heibrandt haat sy pa. Hy neem hom kwalik dat hy gedros het met sy seun se geboorte, dat hy ‘n dwelmslaaf was en dat hy net nooit die afgelope sewentien jaar daar vir Heibrandt was nie. Hy verwyt selfs sy pa vir sy eie afhanklikheid van pille/medikasie: “Wat ek eintlik die meeste haat is dat die appel nie ver van die boom gerol het nie. Ek het vervloekte gene”. Tog is dit asof hy na sy pa smag, dat hy hom wel in sy lewe soek en dat hy so half hoop die man met die swart baadjie en die blink sneakers is wel sy pa.

Teen die einde word die leser met Heibrandt se selfdoodpoging gekonfronteer en kry sy toestand ‘n naam: “Schizoaffective disorder”. By nadere ondersoek blyk dit dat hierdie psigiese versteuring gekenmerk word deur ‘n kombinasie van psigotiese simptome, soos delusie, hallusinasies, depressie, gevoelens van intense hartseer en hopeloosheid, asook redelose vrese en skuldgevoelens. Tydperke van maniese gemoedstoestande kom voor, eiewaarde word bevraagteken en selfdood-gedrag manifesteer. Dit is onseker wat hierdie tipe wanfunksionering veroorsaak, maar ‘n traumatiese gebeure kan dit aktiveer en hierdie gebeure in Heibrandt se lewe is waarskynlik die dood van sy ma en die feit dat hy as jong seuntjie op sy ma met haar gesnyde polse, afgekom het.

Die geweldige impak wat Heibrandt se ma se dood op hom gehad het, word beklemtoon deur ‘n interessante tegniek van die skrywer. Telkens, in elke hoofstuktitel, word ‘n letter vetgedruk. Wanneer hierdie letters saamgevoeg word, word ‘n verskuilde boodskap aan die leser duidelik. Die hoofoorsaak van Heibrandt se situasie word ontmasker. Heel aan die einde van die boek, na die epiloog, word die lirieke van Skadujagter (die “band”) se lied ook bekendgemaak. Dit vertel die tragiese verhaal van ‘n intensverwarde en getraumatiseerde jong man se stryd met chimera, die “monster in jou kop”.

Tog is daar uiteindelik ook ‘n boodskap van hoop in hierdie verhaal. Heibrandt besef uiteindelik dat daar mense is wat hom liefhet, wat hom wil help: “Maar die man wat daar onder langs die ouvrou loop, is my pa! Ek weet dit of ek raai dit of ek wens dit!” Daar is ook die rooikop Lisa op wie hy verlief is en wat bereid is om saam met hom te stap: “Kom ek help jou”. Saamgevat in die lirieke van Skadujagter lê ‘n antwoord vir Heibrandt, maar ook vir die leser. En dit is hierdie antwoord wat hoop bring:

Probeer aanbeweeg, try eerder vergewe.

Voor die meester jou analyse,

doen dit self en vat hom by surprise.

Familie, friends en vyande,

help jouself, neem hulle hande.

Die sielkundige riller spreek tot lesers se soeke na donker, spannende storielyne en verhaalgebeure. Dit is ‘n groeiende tendens ook in die jongvolwasse lesersmark en een wat nog onderontgin is in Afrikaans. Te midde van ‘n suksesvolle riller staan ‘n gekwelde, verwarde en onbetroubare verteller en ‘n dramatiese keerpunt is dikwels deel van ‘n slottoneel. Hierdie genre het uiteraard ‘n fassinerende uitwerking op die leser. Dit bied egter ook ‘n geleentheid aan jong lesers om, in ‘n veilige ruimte, bestaande konflikte en vrese te konfronteer. Dit is broodnodig in ‘n tyd waarin geweld in skole, dwelmmisbruik en ander sosiale kwessies ‘n realiteit in die lewens van die jeug is.

Skadujagter is ’n aangrypende verhaal wat die skrywer met intense deernis, maar ook met hope insae, deel. Sy skryf vernuftig en behendig, met ‘n styl en aanslag wat by die jong volwassene aanklank sal vind. Die tempo is verbysterend, soos wat van ‘n spanningsverhaal verwag word en die tema is, alhoewel onthutsend, relevant en gepas. Taute kry dit reg om diep in die psige van ‘n uiters gekwelde karakter te klim en die leser te betrek by ‘n sielkundige wipwarit. Dit is egter dalk ook juis hierdie spronge in tyd en in realiteit wat lesers mag verwar – wat dit moeilik kan maak om kop of stert van die verhaal uit te maak. Dat dit egter ‘n uitstekende oorgangsverhaal is, is vir seker, een wat lesers van alle ouderdomme mag geniet.

 

Deeghuys Paarl – Rectangle Post Bottom

Share this post

You must be logged in to post a comment Login